Gebore en getoë aan die Oos-Rand, die jongste van vier kinders, en matrikuleer aan die Hoërskool Brandwag in Benoni. Daarna verwerf ek my graad in BA (Tale), met hoofvakke Afrikaans-Nederlands en Noord-Sotho, sowel as ʼn BA Honneurs in Toegepaste Linguïstiek met spesialisering in vertaling aan die Universiteit van Johannesburg (RAU). My werksloopbaan as Vertaler/Taalpraktisyn neem ʼn aanvang by Beeld, Johannesburg, waarna ek vir langer as twee dekades by verskeie instansies as taalpraktisyn werksaam is.
Skryf is een van my groot passies. My debuutroman, Roofdier, verskyn in 2021 op die rakke en is kort daarna op die Nielsen-lys van topverkopers. My tweede roman, Polsslag, word in 2022 gepubliseer en ook dié boek haal meermalig die Nielsen-lys. Hoewel ek ʼn groot liefde vir misdaadfiksie het, waardeer ek alle genres. Dis vir my belangrik om karakters te skep by wie lesers aanklank kan vind en waarmee hulle kan identifiseer – mense wat foute begaan, maar wat ook aan hulself werk om die beste in hulself na vore te bring. Buiten lees en skryf, hou ek daarvan om nuwe disse te beproef, doen graag binnenshuise versiering en ek is ʼn algehele koffieverslaafde. Wanneer ek nie tyd binne spandeer nie, geniet ek dit om lang ente met my hond te gaan stap. |
MARIE LOTZ |